Bester en sy jare by Riebeek Kelder

Wednesday, 17 May, 2017
Die Courant
Zakkie Bester het na twee dekades by die Riebeek Kelder die tuig as hoofbestuurder en keldermeester neergelê.

Met die draai van die eeu sluit Zakkie Bester as hoofbestuurder en keldermeester by Riebeek Kelder aan.

Dit is nou byna 18 jaar later en Bester maak nog steeds wyn van uitstaande kwaliteit. Dié keer val dit onder sy eie familie handelsmerk nadat hy aan die einde van Oktober verlede jaar uit sy bestuurspos getree het. Die verantwoordelikhede van die kelderse produksieafdeling is reeds in 2015 in die betroubare hande van Alecia Boshoff gelaat, terwyl André Engelbrecht sedert November 2016 die nuwe hoofbestuurder is. Vandag is Zakkie egter steeds baie betrokke by die kelder, nadat die direksie hom gevra het om vir nog 'n jaar in 'n raadgewende  hoedanigheid aan te bly en leiding te gee in die bemarking van hul grootmaatwyne.

Dit is wel deeltyds, wat vir hom genoeg tyd verleen om sy nuwe drankwinkel, Enjoy Liquors op Riebeek Kasteel, te bestuur en sy wyn onder sy eie handelsmerk, Bester Family Wines, te maak en te bemark. Nes sy voorvaders wat reeds in die 1700's in die Swartland wortel geskiet het, is Bester gebore op Piketberg en getoë op Malmesbury. Hy is vandag steeds 'n trotse Swartlander wat saam met sy vrou Sandra op Riebeek Kasteel woon en volgens Bester is daar geen begeerte om nader aan die see te trek nie. Hy is lief vir die vallei en sy mense en sal nie sommer wil afstand doen nie, vertel hy.

Nadat hy sy skoolloopbaan by Hoërskool Swartland in 1974 voltooi, vat hy na sy militêre diensplig die pad na Elsenburg Landboukollege om meer te leer oor die kuns van wynmaak. Zakkie was deel van die eerste klas wat die nuwe voorgestelde praktiese kursus oor keldertegnologie voltooi het.

Nadat hy deur verskeie bekende wynmakers onderrig is, word hy in 1989 as bestuurder by De Wet Kelder op Worcester aangestel. Tien jaar later sluit Bester aan by Riebeek Kelder, wat toe nog as 'n koöperatiewe maatskappy bestuur is. "Ek het baie mense leer ken en baie geleenthede gekry." Bester was veral betrokke by die internasionale bemarking van die Riebeek Cellars bottelwynprodukte, asook hil grootmaat wyne wat tans nog 'n groot gedeelte van die kelder se besigheid in beslag neem.

"Ons het oor die jare baie goeie samewerking gehad met die primêre druifprodusente wat druiwe aan die kelder lewer. Dit het dinge baie lekker gemaak en ek het baie goeie vriende in die Riebeek vallei gemaak.

Dit is tydens sy termyn as uitvoerende hoof wat die proses van transformasie voltooi is om die destydse koöperasie tot 'n hedendaagse en moderne wynmaatskappy om te skakel. Die verowering van die gesogte Generaal Smuts trofee vir hul gehoute Viognier op die 2011 Nasionale Jongwynskou was een van die groot hoogtepunte. Die kwaliteit van hul Chenin Blanc het in sy termyn by die kelder ook soveel verbeter dat die wyn nou eie is aan Riebeek Kelder en plaaslik sowel as internasionaal erkenning verkry het. Dit is ook nie verniet Bester se gunsteling wyn nie.

"Daar is nie 'n lekkerder kultivar in die Swartland nie," voeg hy by. In 2004 en 2005 het die kelder ook verskeie nuwe wyndruifsoorte begin aanplant wat die Swartland se genadelose weerstoestande beter kan hanteer en wat volgens hom die volhoubaarheid van hul produsente verseker. Hy is nou maar drie dae 'n week by Riebeek Kelder betrokke en hanteer hoofsaaklik die "bulkwyn" bemarking. Daar is lank nie meer 'n familieplaas in die Swartland vir hom en sy gesin nie, maar dit het hom nie gestuit om sy eie wynreeks onder sy eie familienaam die lig te laat sien nie. Vandag spog hy met twee wyne onder die Bester Family Wines etiket. Die 2016 Bester Chenin Blanc is aan die einde van verlede jaar vrygestel en meer onlangs die 2016 Bester Barbera, wat hy reeds by vanjaar se Olyffees aan gaste kon skink.