25 verhale in 2017 US Woordfees kortverhaalbundel

Friday, 16 December, 2016
Frieda le Roux
Sommige is lank in die tand, ander is al lank in die land, party is nog nat agter die ore en ander is onlangs eers gebore. Só lees die curriculum vitae van die 25 skrywers wie se verhale in die US Woordfees 2017-kortverhaalbundel opgeneem gaan word. Die kompetisie word aangebied in samewerking met Du Toitskloof-wyne.

Die skrywer Jaco Botha, wat vroeër vanjaar oorlede is, tel onder die 25. Sy inskrywing, Is dit dan nou wat liefde is, is kort ná sy dood met toestemming van die US Woordfees in Rapport Weekliks gepubliseer.

Met 178 inskrywings – byna dubbel soveel soos met die eerste bundel wat in 2016 die lig gesien het – het die keurders heelwat leeswerk gehad. Volgens Madri Victor, die projekbestuurder, is sy en haar mede-keurders, Anastacia de Vries en Suzette Kotze-Myburgh, opgewonde oor die hutspot van verhale en talent. “Die verhale wat vir die bundel gekeur is, bestaan uit ’n lekker mengsel van gevestigde skrywers, waarvan sommige ook in 2016 se bundel opgeneem is, en vars nuwe stemme.  Aangesien die keuringsproses anoniem gebeur, maak dit my as samesteller en projekbestuurder baie opgewonde.  Hierdie bundel weerspieël die diversiteit en talent van ons skrywers.”

Die skrywers ontvang elkeen R4 000, terwyl ’n wenverhaal tydens die bundel se bekendstelling in Maart by die US Woordfees 2017, aangekondig sal word. Die skrywer van dié verhaal wen ’n bykomende R30 000.

Die skrywers is, in geen spesifieke volgorde nie, Marlize Hobbs, Michèle Meyer, Anri Botha, Constant van Graan, Martin Botha, Jaco Minnaar, Santie van der Merwe, Henning Janse van Vuuren, Natie Engelbrecht, Gerda Taljaard, Deborah Steinmair, Rudie van Rensburg, Marthé Mcloud, Martin Steyn, Hendie Grobbelaar, Christine le Roux, Wentzel Lombard, Bernice Saulse, Engela van Rooyen-Linde, Gideon Strydom, Kirby van der Merwe, Carolyn Meads, Carin Krahtz, Pieter Marais en Jaco Botha.